Friday 26 January 2018

Om tot die aangesig van die Heilige te nader ... Met aanbidding (Week van Gebed 2018, deel 5)

Skriflesing: Eks. 25:10-22

"Julle moet ’n ark van doringhout maak: een en ’n kwart meter lank, ’n driekwart meter breed en net so hoog. Jy moet dit binne en buite met suiwer goud oortrek en ’n goue lys rondom vassit. Verder moet jy vier goue ringe giet wat aan die onderste vier hoeke vasgesit moet word, sodat daar twee ringe aan elke kant is. Jy moet draaghoute van doringhout maak en dit met goud oortrek. Dan moet jy die draaghoute deur die ringe aan weerskante van die ark steek om die ark daarmee te dra. Die draaghoute moet in die ringe van die ark bly en mag nooit uitgehaal word nie. In die ark moet jy die getuienis van die verbond sit wat Ek jou sal gee. Dan moet jy ’n deksel van suiwer goud maak, een en ’n kwart meter lank en ’n driekwart meter breed. Maak twee gerubs van geslae goud op die kante van die deksel, een links en een regs. Die gerubs aan weerskante van die deksel moet so gemaak word dat hulle ’n eenheid met die deksel vorm. Hulle vlerke moet uitgesprei wees oor die deksel, sodat hulle dit bedek. Die gerubs se gesigte moet na mekaar toe wees, en hulle moet afkyk op die deksel. Jy moet die deksel bo-op die ark sit en daarbinne die getuienis wat Ek jou sal gee. Dáár sal Ek jou ontmoet. Ek sal met jou praat van die deksel af tussen die twee gerubs uit wat op die ark met die getuienis is. Al my bevele vir die Israeliete sal Ek jou van daar af gee."

(Eks. 25:10-22)

INLEIDING
Ons kom vanaand aan die einde van ons reis deur die Tabernakel. Neem vir ‘n oomblik die tyd om na te dink oor waar ons ons vanaand bevind: in die Allerheiligste van die Tabernakel. Die plek waar slegs die hoëpriester, een maal per jaar toegelaat was om in te gaan op die Groot Versoendag. Die plek waar die Here in sy heerlikheid verskyn het om met Moses te praat. Die plek waar hemel die naaste gekom het om op aarde te wees. Dit is die vertrek wat ons vanaand betree: Die Allerheiligste om stil te kom staan by die ark van die verbond.

Dit is hier in die Allerheiligste by die verbondsark waar ons in die teenwoordigheid van God kom om Hom te aanbid.

DIE VERBONDSARK
Van al die voorwerpe van die Tabernakel (en later die tempel) was daar ‘n besondere band tussen die ark van die verbond en die Here se teenwoordigheid. Ons sien dit in die geskiedenis van Israel, hoe die Here by tye die volk beveel om met die ark van die verbond die oorlogsveld te betree as teken daarvan dat Hy vir hulle veg. Ongelukkig het die volk later meer op die voorwerp begin vertrou eerder as op die Here, soos ons in die geskiedenis van Eli en sy seuns in 1 Sam. 4.

Die ark van die verbond was die voorwerp wat ook die meeste detail gehad het van al die voorwerpe. Dit was gemaak uit twee dele: die ark of boks gedeelte en die deksel wat daarop geplaas was.

Die ark was 1,25 m in lengte, 75 cm in breedte en 75 cm in hoogte. Dit was gemaak van doringhout en oorgetrek met suiwer goud. Rondom die rand van die ark was daar ‘n lys aangebring as versiering. Aan weerskante van die ark was daar twee ringe aangebring, vier ringe in totaal. Dit was vir die draaghoute wat ook van doringhout gemaak moes word en met goud oorgetrek moes word. Hierdie draaghoute mag nooit uit die ark gehaal word nie.

Die deksel van die verbondsark was 1,25 m in lengte en 75 cm in breedte. Bo-op die deksel was daar die figure van twee gerubs met oopgespreide vlerke wat na mekaar gekyk het. Hul vlerke het ook na mekaar gewys en die deksel sodoende bedek. Dit is tussen hierdie gerubs se oopgespreide vlerke waar die heerlikheid van die Here sou sigbaar word wanneer Hy met Moses sou praat.

Binne in die ark van die verbond het Moses drie dinge ingesit, volgens Hebr. 9:4: die goue kruik met manna wat die Here beveel het om bymekaar te maak in Eks. 16:32-34; die kierie van Aäron wat gebot het (Num. 17:1-11) en die twee tafels van die wet. Die kruik met manna en die kierie moes met die verloop van tyd verlore geraak het, want in die tyd van Salomo was slegs die twee tafels van die wet in die verbondsark gewees wat hy in die Tempel geplaas het (1 Kon. 8:9).

DIE VERBONDSARK EN CHRISTUS
Die verbondsark wys op verskeie maniere na Christus.

In die eerste plek, as die plek waar Christus sy bloed voor God kom uitstort het. Ons lees in Hebr. 9:11-12: “Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy een maal die heiligdom (met ander woorde, tot in die Allerheiligste) binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring.” Dus, die verbondsark herinner ons ook aan die bronsaltaar en die waskom; aan Christus se offer wat ons verlos het en waardeur ons gereinig word voor God sodat ons sy teenwoordigheid kan betree.

Maar verder, in die tweede plek, wys die verbondsark ook na Christus as die Immanuel, God wat onder ons kom woon het. Die verbondsark was die simbool van God se teenwoordigheid onder sy volk. En dit het gewys daarop dat daar ‘n dag sal kom waar God fisies ook onder sy volk sal wandel. Daardie dag het aangebreek toe die Seun van God mens geword en onder ons kom woon het. Die apostel Johannes skryf in Joh. 1:14: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon ...”, letterlik vertaal: onder ons kom tabernakel opslaan, “Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

Die verbondsark wys egter ook op ‘n derde manier na Christus in die sin dat Hy nie net Immanuel, God met ons, is nie; maar ook as mens aan die eise van die wil van God voldoen het. Die wet van die Here was in die verbondsark geplaas as die standaard waardeur God genader kon word: volmaakte gehoorsaamheid aan daardie wet. Jesus Christus het aan die eise van daardie standaard voldoen. Daarom dat ons in Hebr. 4:15 sê: “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.” Hy kon vir ons die volmaakte offer bring (die bronsaltaar); Hy kons ons met sy bloed reinig (die bronswaskom); Hy kan ons die ewige lewe gee (die toonbrode en kandelaar); Hy kan ook vir ons by die Vader intree as Voorspraak en Middelaar (die goue wierookaltaar), want Hy het aan die eise van God se volmaakte standaard, sy wet, voldoen.

DIE VERBONDSARK EN ONS GEBEDE
Terwyl ons nadink oor die betekenis van die verbondsark gaan ons ook op ons knieë om te bid. Hier in die Allerheiligste staan ons letterlik op heilige grond, omdat ons nou in die teenwoordigheid van die Heilige is tot wie ons nader. Nou is dit die tyd om God te aanbid!

Begin hierdie aanbidding van die Here deur na te dink oor wie Hy is. Dink vir ‘n oomblik aan ‘n paar eienskappe van die Here. Hy is almagtig, alwetend, alwys, alomteenwoordig, vrymagtig, ewig, heilig, genadig, regverdig, barmhartig, liefdevol, ens. Om al die eienskappe van God te noem sou ons baie lank kan besig hou en om daaroor te bid, nog langer. Dus, om dit prakties te maak, gaan sit en maak ‘n lys van die eienskappe van die Here, of nog beter doen Bybelstudie oor die verskillende eienskappe. Gaan dan elke dag by die lys af en kies net een of hoogstens twee eienskappe en dink biddend daaroor na. Dink aan wat hierdie eienskappe oor Hom sê; maar dink ook wat daardie eienskappe vir jou persoonlik betref. Wat is die troos of waarskuwings wat hierdie eienskappe vir jou gee. Bv. as jy na dink oor God as die Onderhouer, kan jy Hom aanbid aan die Een wat die skepping deur sy magswoord in stand hou, maar jy kan ook na jou eie lewe kyk en Hom aanbid vir die wete dat ook jou lewe in sy hande is. Hy is jou goeie Vader wat vir jou sorg. Dink daaroor na en praat met God daaroor in gebed.

Gaan egter ook verder. Dink na oor die werk van God en aanbid Hom daarvoor. Wat het Hy alles vir jou gedoen? Om maar ‘n paar te noem: Hy het jou geskep, Hy onderhou jou, Hy het jou uitverkies en verlos deur sy Seun Jesus Christus, Hy het aan jou die Heilige Gees gegee as teken daarvan dat jy aan Hom behoort, Hy beskerm jou teen die aanslae van die Bose, Hy lei jou deur Sy Woord en sy Gees, Hy verseker jou ewigheid, Hy maak jou deel van ‘n gemeenskap van gelowiges, ens. Neem nou weer een of twee van hierdie dinge wat die Here vir jou gedoen het, tydelik of geestelik, en aanbid Hom daarvoor.

Om hier by die verbondsark stil te word in die teenwoordigheid van die Here, is om alleen op God te fokus: op Wie Hy is en op wat Hy vir jou gedoen het. Dit is ‘n oomblik om saam met die engele en al die medegelowiges wat ons voorafgegaan het en rondom sy troon versamel is, te verenig deur die Here te loof en te aanbid. Dit is in ‘n sekere sin ‘n plek waar die aardse en tydelike lewe vir ‘n oomblik stilstaan en ons ‘n stukkie van die ewigheid in die teenwoordigheid van die Here kan smaak, sodat ons weer met die regte perspektief na die aardse en tydelike lewe kan kyk.

SLOT
Ons reis is voltooi. Ons staan voor die aangesig van die Heilige, die Een wat ons:
  • Verlos het deur die offer van sy Seun aan die kruis;
  • Skoon gewas het met die bloed van sy offer;
  • Versorg na liggaam en gees, in die tydelike en ewige lewe;
  • Lei deur sy Woord en Gees om ligdraers tot sy eer te wees;
  • Gebede aanhoor omdat die Seun vir ons by Hom intree; en
  • Toelaat om in sy teenwoordigheid te kom – nie meer as sondaars nie, maar nou as kinders van God die Allerhoogste.


Laat ons Hom aanbid vir hierdie groot genade en liefde wat Hy aan ons bewys het. Amen!  

Thursday 25 January 2018

Om tot die aangesig van die Heilige te nader ... Met voorbidding vir ander (Week van Gebed 2018, deel 4)

Skriflesing: Eks. 30:1-10

"Jy moet ’n altaar van doringhout maak om daarop wierook te brand. Dit moet ’n half meter in die vierkant wees en ’n meter hoog. Sy horings moet ’n eenheid daarmee vorm. Jy moet die bokant, die sye rondom, en die horings met suiwer goud oortrek en ’n goue lys rondom die altaar vassit. Jy moet twee goue ringe vir elke kant maak en dit aan weerskante teenoor mekaar, onderaan die lys vassit om die draaghoute waarmee jy die altaar moet dra, daardeur te steek. Jy moet die draaghoute van doringhout maak en hulle met goud oortrek. Sit die altaar dan neer voor die voorhangsel wat hang voor die ark met die getuienis, voor die deksel op die getuienis waar Ek jou sal ontmoet. Elke oggend wanneer Aäron die lampe versorg, moet hy geurige wierook op die altaar brand. Elke aand wanneer hy die lampe aansteek, moet hy wierook brand. Die wierookoffer moet altyd, ook deur julle nageslag, vir My, die Here, gebring word. Julle mag nie ongeoorloofde wierook op die wierookaltaar brand nie, ook nie brandoffers of graanoffers nie, en nie ’n drankoffer daarop uitgiet nie. Aäron moet een keer per jaar op die horings van die altaar versoening doen met die bloed van die sondeoffer. Ook julle nageslag moet een keer per jaar op die horings versoening doen. Die altaar is op ’n besondere manier gewy aan My, die Here."

(Eks. 30:1-10)

INLEIDING
Ons het gisteraand die Heilige van die Tabernakel betree en na die eerste twee voorwerpe in hierdie vertrek gekyk: die tafel met die offerbrode en die kandelaar met die sewe lampe. Hierdie voorwerpe lei ons in ons voorbidding vir ons eie behoeftes. Die tafel met sy offerbrode herinner ons nie net dat Jesus Christus die Brood is wat die lewe gee nie, maar ook die Een is wat ons na liggaam en gees voed en versorg. Aan die ander kant herinner die kandelaar ons dat Jesus Christus die Lig is wat ons gered het uit die duisternis, sodat ons in sy lig tot eer van God kan lewe. Dus, wanneer ons hier in die Heilige stil word om te bid, bid ons dat die Here ons sal versorg na liggaam en gees, maar ook sal lei tot eer van sy Naam.

Vanaand staan ons stil by die derde voorwerp wat in die Heilige gestaan het: die goue wierookaltaar aan die Weste kant van die Heilige. Hierdie altaar herinner ons om in te tree vir ons medegelowiges.

DIE WIEROOKALTAAR
Die wierookaltaar was die voorwerp wat die meeste eer geniet het in die Heilige. Van hierdie altaar sê die Here in Eks. 30:6: “Sit die altaar dan neer voor die voorhangsel wat hang voor die ark met die getuienis, voor die deksel op die getuienis waar Ek jou sal ontmoet.” Hierdie altaar het dus voor die Here gestaan.

Die altaar self was 50 cm breed, 50 cm lank en 1 m hoog. Dit het aan die bo kant op die punte vier horings gehad en ‘n goue rand rondom die bopunt. Aan die kante was daar vier ringe vir die twee draaghoute. Die hele altaar met sy draaghoute was oorgetrek met suiwer goud.

Die wierook vir hierdie altaar was ook voorgeskryf. Die voorskrifte hiervoor vind ons in Eks. 30:34-38. Dit het bestaan uit gelyke dele van hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook en met sout gemeng. Hierdie mengsel moes fyn gemaal word tot poeier. Daar sou van die kole van die bronsaltaar geneem word om op hierdie altaar in die Heilige te sit en dan was daar van hierdie wierook op die kole elke oggend en aand gegooi, sodat die rook van hierdie wierook die Heilige en die Allerheiligste sou vul.

Die Here het ook verbied dat daar op hierdie altaar enige ander offer gebring mag word: “Julle mag nie ongeoorloofde wierook op die wierookaltaar brand nie, ook nie brandoffers of graanoffers nie, en nie ‘n drankoffer daarop uitgiet nie.” (Eks. 30:9)

Hierdie wierookaltaar was ook simbolies van die voorbidding vir die volk en die wierook simbolies van die gebede wat tot die Here opstyg. Uit Luk. 1:9-10 sien ons dat met die aansteek van die wierookoffer, die volk buite gestaan en bid het en die priester ook vir die volk ingetree het. Wanneer die priester hier by die wierookaltaar gebid het, het hy as die tussenganger gestaan tussen God en sy volk en as tussenganger die gebede van die volk soos die lieflike wierook voor die Here gebring.

DIE WIEROOKALTAAR EN CHRISTUS
Waar die bronsaltaar in die voorhof op Christus se amp as Verlosser gedui het, dui die goue wierookaltaar op Christus se amp as Middelaar. Christus is ons Hoëpriester wat vir ons intree by die Vader en ons gebede tot die genadetroon van die Here bring. Daarom dat apostel Johannes in 1 Joh. 2:1 skryf: “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die Regverdige, as ons Voorspraak by die Vader.” En daarom skryf die apostel Paulus in 1 Tim. 2:5-6: “Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mens, die mens Christus Jesus wat Homself as losprys vir almal gegee het ...”

Hier moet ons egter ook ‘n saak duidelik stel: Jesus Christus is die enigste Middelaar tussen God en die mens. Daarom mag ons net tot God nader deur Christus alleen. Geen ander mense, hoe heilig hulle ook al mag gelewe het, en geen engel kan vir ons toegang verkry tot die genadetroon van God nie. Daarom is dit on-Bybels en verkeerd om in die naam van enige mens of engel – of dit nou Maria, Paulus, Petrus, Gabriël of Michael is. Hierdie mense en engele het nie vir ons gesterf nie; en daarom kan hulle nie ons middelaars wees nie. Alleen Jesus Christus het ons ons gesterf en met sy bloed die Allerheiligste binne gegaan om so versoening te doen vir ons. Daarom kom ons tot God in die Naam van Jesus Christus, ons enigste Verlosser en enigste Middelaar.

DIE WIEROOKALTAAR EN ONS GEBEDE
Alhoewel die wierookaltaar op Christus se Middelaarskap dui en ons verseker dat Hy vir ons by die Vader intree; lei hierdie wierookaltaar ons ook om uit liefde vir ons medegelowiges en ons naaste by God in te tree. In Op. 8:3-4 word die wierookaltaar voorgehou as die plek waar die gebede van die gelowiges voor God opstyg. Ons lees: “’n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ‘n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.”

So staan ons dan by die goue wierookaltaar in die Heilige en doen voorbidding. Ons draai om en kyk terug na die tafel met die offerbrode en bid dat die Here ook sal voorsien in die daaglikse en geestelike behoeftes van sy kinders. Maar ons bid ook dat God se algemene genade waardeur Hy sy skepping onderhou ook groot sal wees oor ons naaste, al ken hulle Hom nie.

Ons kyk ook na die kandelaar met die sewe lampe en bid dat die Here sy kerk sal lei om getroue getuies van sy Naam en die Evangelie van Christus sal wees – ook wanneer hulle ter wille van sy eer en die Evangelie vervolging ervaar. Maar terselfdertyd bid ons ook vir ons naaste, ja, ook vir die ongelowige wêreld, dat die Here in sy genade die boosheid in hierdie wêreld sal bekamp en ook die ongelowiges sal gebruik om sy wil uit te voer.

Terwyl ons bid vir die versorging en leiding van ons medegelowiges en naaste, dink ons ook terug aan die bronswaskom en die bronsaltaar.
  • Ons dank God vir die genade wat Hy aan ons medegelowiges bewys het deur hulle ook te verlos en hulle sondes te vergewe op grond van die offer en bloed van Jesus Christus. Ons dank Hom omdat die Hy besig is om sy kerk te bou. Daarom bid ons ook dat ons medegelowiges nie net vas sal staan in die Evangelie nie, maar ook sal groei in hulle verhouding met God en die lewe van heiligmaking.
  • En vir die ongelowige wêreld bid ons vir genadetyd. Genadetyd omdat ons besef dat wie ook al hulle rug op die offer van Christus draai, nie net verlore is nie, maar in hulle verlorenheid ook onder die ewige oordeel van God is. Soos die Hebreërs-skrywer dit ook in Hebr. 10:28-29 stel: “As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?

Kom ons maak dit vanaand baie prakties: Dink vir ‘n oomblik aan jou familie-, werks- en vriendekring.
  • Kies nou vir jou 5 name van mense wat jy weet gelowiges is. Dink vir ‘n oomblik aan hulle behoeftes, die dinge wat hulle nodig het. Aardse en tydelike behoeftes, maar ook geestelike behoeftes. Bid daarvoor en vra die Here se leiding oor hulle lewe. Vra dat Hy hulle sal naby wees en sal lei om werklik ligdraers in hierdie donker wêreld te wees.
  • Fokus nou jou aandag op 5 name van mense wat jy ken wat jy weet ongelowiges is. Is daar iets in hierdie mense se lewe waarmee hulle worstel, of sukkel, of hulp nodig het. Dra dit op aan die Here en vra dat hy ook hierdie situasie waarin hulle hul bevind sal gebruik om hulle tot bekering te bring. Bid dat die Gees hulle oë sal oopmaak vir die lig van die Evangelie en in hulle ‘n nuwe geestelike lewe sal wek.

Word stil by die goue wierookaltaar voor die aangesig van God en tree in vir die mense in jou lewe: jou medegelowiges, maar ook jou naaste.

SLOT
Ons het al ver gevorder op ons reis in die Tabernakel:
  • Ons het God gedank vir die verlossing wat Hy bewerk het deur die offer van sy Seun, Jesus Christus.
  • Ons het ervaar hoe Hy ons vryspreek van ons sonde, omdat ons met die bloed van Christus gewas is en nou rein voor Hom staan.
  • Ons kon met vrymoedigheid vra dat Hy sal voorsien in ons aardse en tydelike behoeftes, en
  • Ons kan reken op sy leiding wat Hy vir ons gee deur sy Gees en sy Woord, om sodoende ware ligdraers te kan wees in die donker wêreld waarin ons leef.

Nou staan ons by die goue wierookaltaar en bid ook vir ander: vir ons medegelowige, mede-verlostes deur Jesus Christus en lede van die huisgesin van God; maar ook vir ons naastes, vriend of vyand wat die Here oor ons pad stuur. So volg ons ook in die voetspore van Christus, wat gebid het vir sy kerk, maar ook vir dié wat Hom vervolg het. Laat ons so stil word by die wierookaltaar en intree vir ander by ons Hemelse Vader. Amen.

Wednesday 24 January 2018

Om tot die aangesig van die Heilige te nader ... om te vra vir versorging en leiding (Week van Gebed 2018, deel 3)

Skriflesing: Eks. 25:23-40

“Jy moet ’n tafel van doringhout maak. Sy lengte moet een meter wees, sy breedte ’n half meter en sy hoogte ’n driekwart meter. Trek dit oor met suiwer goud en sit ’n goue lys rondom vas. Jy moet ’n band, sewe sentimeter breed, rondom die tafel sit en daar rondom ’n goue lys vassit. Jy moet vier goue ringe vir die tafel maak en dit aan die vier hoeke vassit, regoor die vier pote. Die ringe moet naby die band vas kom sodat die draaghoute deur hulle gesteek kan word om die tafel mee te dra. Maak die draaghoute waarmee die tafel gedra moet word, van doringhout en trek hulle oor met goud. Maak vir die tafel skottels, panne, kanne en komme, alles van suiwer goud. Gebruik dit om die drankoffer mee uit te giet. Sit offerbrood op die tafel. Dit moet altyd daar voor My in my teenwoordigheid wees.

Jy moet ’n kandelaar van suiwer goud maak. Dit moet van geslae goud wees, sodat die kandelaar se voetstuk, stam, blomkelke, knoppe en kroonblare alles een geheel is. Daar moet ses arms uit die stam vertak, drie aan elke kant. Daar moet ook drie blomkelke, in die vorm van amandelbloeisels, met knoppe en kroonblare aan elke arm van die kandelaar wees. So moet dit wees vir al ses arms wat uit die stam van die kandelaar vertak. Vir die hoofstam van die kandelaar moet daar vier blomkelke, in die vorm van amandelbloeisels, met knoppe en kroonblare wees. Verder moet daar ’n knop wees onder elke paar arms van die kandelaar, drie vir die ses arms wat uit die stam van die kandelaar vertak. Die knoppe en die arms moet alles wees uit een stuk suiwer geslae goud. Jy moet sewe lampies maak en dit so op die kandelaar vassit dat dit lig gee na sy voorkant toe. Die pithouers en bakkies van die kandelaar moet van suiwer goud wees. Al hierdie voorwerpe moet uit vier en dertig kilogram suiwer goud gemaak word. Sorg dat jy dit maak volgens die plan wat vir jou op die berg gewys is”

(Eks. 25:23-40)

INLEIDING
Ons kom vanaand nog ‘n stappie nader aan die Allerheiligste van die Tabernakel. Die voorhof is agter ons: die plek waar ons herinner is aan die offer van Christus by die altaar en waar ons by die waskom kom smeek het om vergifnis van sonde op grond van die offer van Christus. Nou staan ons in die Heilige van die Tabernakel: ‘n vertrek van glinsterende goud. In die voorhof was die voorwerpe van brons, maar nou word ons met goud begroet en sodoende herinner dat ons ‘n tree nader is aan die Koning van hemel en aarde.

Hier in die Heilige van die Tabernakel vind ons drie voorwerpe: aan die noorde kant van die Heilige is die tafel met die toonbrode, aan die suide kant is die 7-arm kandelaar en voor ons aan die weste kant staan die wierookaltaar voor die voorhangsel wat na die Allerheiligste lei.

Vanaand kyk ons na die twee voorwerpe weerskant van ons: die tafel met toonbrode en die 7-arm kandelaar. Hierdie vertrek, die Heilige van die Tabernakel, is die plek van voorbidding. Dit is hier waar ons ons aardse en geestelike behoeftes aan die Here kom bekend maak, maar ook die behoeftes van ons medegelowiges aan Hom kom opdra. In die eerste plek herinner die tafel met die toonbrode ons aan God se versorging en lei dit ons om te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matt. 6:11). Maar in die tweede plek herinner die kandelaar ons ook dat Christus die Lig van die wêreld is in wie se lig om moet lewe.

DIE HEILIGE VAN DIE TABERNAKEL EN DIE VOORWERPE
Stel jou die volgende toneel voor: Jy staan voor die ingang van deel wat na die Heilige van die Tabernakel lei: ‘n pragtige gordyn van blou, pers en bloedrooi wolstof versier met borduurwerk. Jy trek hierdie gordyn oop en stap die Heilige binne. Voor jou sien jy die voorhangsel wat die Allerheiligste van die Heilige skei, ‘n pragtige gordyn met die motiewe van gerubs daarop geborduur. Voor die voorhangsel staan die wierookaltaar wat die Heilige vul met ‘n soet reuk van wierook. Regs van jou staan die tafel met toonbrode en links van jou die 7-arm kandelaar wat die vertrek verlig. Orals waar jy kyk, sien jy net goud: die mure, goud; die tafel, goud; die wierookaltaar, goud; die kandelaar, goud. Alles is van goud ...

Die tafel met toonbrode
Die tafel was gemaak van doringhout en oorgetrek met suiwer goud. Dit is 1 m in lengte, 50 cm in breedte en 75 cm in hoogte. Rondom die rand van die tafel is daar ‘n band van goud aangebring, 7 cm breed. Aan die vier punte van die tafel is daar ‘n goue ring waardeur die draaghoute wat met goud oortrek is, gesteek is.

Bo-op die tafel is daar twee stapels offerbrode, twaalf in totaal en bo-op elke stapel ‘n bakkie met wierook daarin as offer vir die Here (Lev. 24:7). Hierdie brode het die twaalf stamme van Israel verteenwoordig en is elke Sabbat vervang.

Hierdie tafel met sy brode was simbolies van God se versorging van Israel, nie net gedurende die tyd in die woestyn nie, maar ook die belofte van versorging vir wanneer hulle in die beloofde land sou kom.

Die kandelaar met 7 lampe
Teenoor die tafel met die twaalf toonbrode het die kandelaar met sy sewe lampe gestaan. Dit was gegiet om een stuk te vorm uit suiwer goud. Dit het bestaan uit ‘n hoofstam versier met vier blomkelke met ‘n knop onder elke kelk. Uit die stam het daar ses arms vertak, drie aan elke kant en versier met drie blomkelke met ‘n knop onder aan elke kelk. Bo aan die arms van die kandelaar was daar sewe olielampe van goud met die pit aan die voorkant van die lamp. Hierdie lampe was, volgens Lev. 24:1-4 gevul met olyfolie en moes voortdurend brand.

Hierdie kandelaar het God se leiding gesimboliseer. Dit het die volk daaraan herinner dat God nie net onder sy volk woon nie, maar dat Hy hulle ook lei deur sy wette en voorskrifte. Maar, as volk van God, moes hulle ook ‘n lig wees vir die volke rondom hulle. Dis onder andere waarom die Here die volk na die beloofde land toe gebring het, want dit was die kruispad van die destydse wêreld, en dit was vanuit die beloofde land wat God se lig ook sou uitkring oor die wêreld.

DIE TAFEL EN LAMP WYS OP CHRISTUS
Hierdie twee voorwerpe, die tafel met sy toonbrode en die kandelaar, wys op ‘n besondere manier na Christus.

In Joh. 6:35 sê Christus: “... Ek is die Brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie ...”. Die tafel met sy toonbrode het nie net Israel herinner aan God se versorging nie, maar dit het hulle ook gewys op die Een wat sou kom om hulle ewige honger te vul, nl. Jesus Christus deur wie ons die ewige lewe ontvang. Daarom dat Jesus in Joh. 6:47-8 sê: “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die Brood wat lewe gee.”

Maar ook die kandelaar en sy lig wys na Christus. In Joh. 8:12 sê Christus: “... Ek is die Lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Jesus Christus is die Lig wat die donkerte van die sonde uit die harte van mense verdryf en hulle lei tot die nuwe lewe. Sonder Christus sou ek en jy in duisternis bly woon het. Maar Christus gaan ook verder en wys ons daarop dat ons, as dissipels van die Lig, ook self ligdraers in hierdie donker wêreld moet wees. Ons lees in Matt. 5:14 en 16: “Julle is die lig vir die wêreld ... Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Daarom dui die kandelaar nie net op die verlossingswerk van Christus as die Lig vir die wêreld nie, maar ook op ons roeping om die lig van die Woord deur ons woorde en ons dade in hierdie donker wêreld uit te leef.

En dit bring ons by ons gebedslewe ...

DIE TAFEL EN KANDELAAR LEER ONS OM TE BID
Soos reeds gesê is, is die Heilige van die Tabernakel die plek waar ons voorbidding doen. Dit is die plek waar ons ons hart voor die Here uitstort oor die behoeftes van ons hart met betrekking tot die aardse, maar ook die geestelike lewe.

Soos jy in die Tabernakel van jou gebed instap, gaan staan vir ‘n oomblik stil by die tafel met sy toonbrode en bid: “Vader, gee vandag vir my my daaglikse brood.” Met ander woorde, gee vir my dit wat nodig is vandag om U te kan dien. Dink byvoorbeeld na oor die dinge wat vir jou voorlê vir die dag. Kyk na jou program en bid die Here se seën daaroor.

Terwyl jy bid vir daaglikse brood, draai ook na die kandelaar en bid vir sy leiding. Vra Hom om vir jou wysheid te gee, sodat jy dit wat vir jou in die dag voorlê, so sal aanpak dat jy werklik ‘n ligdraer van Christus in die donker wêreld sal kan wees en dat jou lewe Hom sal verheerlik.

Maar moenie vas hak by die aardse nie, bid ook dat die Here ook sal voorsien en jou sal lei wat die geestelike lewe betref. Bid, soos Christus ons leer bid het: “... laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.” (Matt. 6:13) Met ander woorde, bid vir krag vir en leiding in die stryd teen die Bose, die stryd teen die sondige wêreld en die stryd teen jou eie sondige natuur. Bid dat die Here jou geestelik sal versterk soos wat jy oor sy Woord nadink en dat Hy jou sal lei om die regte keuses te maak in die besluite wat jy moet neem wanneer versoekings oor jou pad kom.

En terwyl jy hiervoor bid, vra ook dat Hy jou sal help om op Hom te vertrou: te vertrou vir dit wat jy nodig het (let wel, vir dit wat jy nodig het, nie dit wat jy wil hê nie), maar ook om sy leiding te vertrou, al is dit nie populêr in die oë van die samelewing nie.

SLOT
Jesus Christus het vir jou gesterf en sy lewe as offer en losprys gegee, sodat jy gered kon word en in ‘n lewende verhouding met God kan staan. Deur sy bloed word jy ook skoon gewas van jou sonde en kan jy nou, rein voor God, die Heilige betree en jou hart voor die Here uitstort: jy mag en moet met Hom praat oor jou behoeftes en die dinge wat jy na liggaam en gees nodig het – nie omdat God nie weet wat jy nodig het nie, maar omdat Hy wil hê dat jy jou hart voor Hom moet uitstort en soos ‘n kind aan sy Vader jou behoeftes aan Hom bekend maak. Maar om dit ook so te doen, dat ons op Hom bly vertrou, selfs wanneer Hy ons gebede op ‘n manier beantwoord wat anders is as wat ons verwag het.

Word vir ‘n oomblik stil in die Heilige van die Tabernakel: kyk na die tafel met die toonbrode en wees dat jou Vader wat in die hemel is, weet wat jy nodig het; kyk na die kandelaar en vertrou dat Hy weet wat die beste is. Vertrou op Hom, Hy sorg ook vir jou. Amen.